1.27.2008

"Ek, Nou" En Ander Verwante Notas

Is "Persoon A" dieselfde mens as wat sy was vyf jaar gelede? Ten spyte van veroudering, en in ag genome die effekte van leefstyl op voorkoms en fisiese welstand, is sy heel moontlik steeds herkenbaar as dieselfde persoon. Psigies is sy egter bloot verwant. Om te beweer dat sy psigies dieselfde mens is, is nie te verskillend as om te beweer dat ek en een van my twee susters dieselfde mens is nie, net omdat ons van dieselfde baarmoeder gespruit het.

Regs-tegnies is sy ook steeds "Persoon A" – sy is steeds verantwoordelik vir kontrakte wat sy vyf jaar gelede aangegaan het, en sy kan ook steeds verantwoordelik gehou word vir kriminele dade wat sy moontlik gepleeg het vyf of tien jaar gelede.

Sy dra ook steeds die vreugdes en die las van keuses wat sy gemaak het, of insidente waarby sy betrokke was enige tyd gedurende haar verlede.

Die SELF bly egter nie konstant nie; "SELF-2004 van Persoon A" is slegs psigies-verwant aan "SELF-1999 van Persoon A."

Dit kan verder gevra word of "SELF, Mei 2004 van Persoon X" dieselfde is as "SELF, Julie 2004 van Persoon X," of slegs verwant. Die antwoord is dat die twee slegs verwant is, maar nader as "SELF, 1995 van Persoon X" en "SELF, 2003 van Persoon X" ('n partikulêre waarheid relatief tot Persoon X, wat nie noodwendig direk toegepas kan word op Persoon A nie).

Mens kan selfs meer tegnies raak en vra na die verhouding van "SELF, 4 Julie 2004 om 16:34 van Persoon X" tot "SELF, 4 Julie om 16:33 van Persoon X." Die antwoord is dieselfde: die twee is steeds slegs verwant, maar die gradiënt van verwantskap is nouer as in die geval van byvoorbeeld "Mei-SELF" en "Julie-SELF" (weereens is dit relatief tot Persoon X, en nie noodwendig ewe geldig vir Persoon A nie).

[uit: 'n Persoonlike Agenda, deur Brand Smit]